Europese Suidelike Sterrewag

Europese Suidelike Sterrewag
Ruimte-organisasie
Die ESO se Baie Groot Teleskoop in Chili.
Afkorting ESO
Doel Ruimteverkenning in die Suidelike Halfrond
Gestig 1962
Soort Interregeringsorganisasie
Hoofkwartier Garching, Duitsland
Teleskope Verskeie in Noord-Chili
Ledetal 16 (15 Europese lande en Brasilië)
Direkteur-generaal Xavier Barcons
Leuse Reaching New Heights in Astronomy
Webtuiste eso.org

Die Europese Suidelike Sterrewag (ESO, amptelik: Europese Organisasie vir Sterrekundige Navorsing in die Suidelike Halfrond) is 'n interregeringsorganisasie van 16 lande vir sterrekundige navorsing. Dit is in 1962 gestig en het moderne geriewe op die been gebring vir die waarneming van die suidelike naghemel. Die organisasie het 730 personeellede en ontvang jaarlikse lidlandbydraes van sowat €131 miljoen.[1] Sy sterrewagte is in Noord-Chili geleë.

Die ESO se logo.

Die ESO het van die grootste en tegnologies mees gevorderde teleskope gebou. Dit sluit in die New Technology Telescope en die Baie Groot Teleskoop (VLT), wat bestaan uit vier verskillende teleskope elk met 'n primêre spieël van 8,2 m en vier kleiner hulpteleskope. Die Atacama Large Millimeter Array (ALMA) neem die heelal waar in millimeter- en submillimeter-golflengtes en is die wêreld se grootste sterrekundeprojek nog op die grond. Dit is in Maart 2013 voltooi danksy internasionale samewerking deur Europa (verteenwoordig deur die ESO), Noord-Amerika, Oos-Asië en Chili.[2][3]

Tans in aanbou is die Uiters Groot Teleskoop (ELT). Dit sal 'n gesegmenteerde spieël van 39,3 m gebruik en sal in 2024, wanneer dit in werking gestel word, die grootste optiese reflektorteleskoop ter wêreld wees. Dit sal planete om ander sterre kan bestudeer, asook die eerste voorwerpe in die heelal, supermassiewe swartkolke en die aard en verspreiding van donker materie en donker energie, wat die heelal oorheers.

Wetenskaplikes het met die ESO se waarnemingsgeriewe verskeie sterrekundige ontdekkings gedoen en sterrekundige katalogusse saamgestel[4] Ontdekkings sluit in die verste gammaflits en bewyse van die swartkolk in die middel van die Melkweg.[5][6] In 2004 het die VLT sterrekundiges in staat gestel om die eerste foto te neem van 'n eksoplaneet (2M1207b) wat 173 ligjare van hier om 'n bruindwerg wentel.[7] Die High Accuracy Radial Velocity Planet Searcher (HARPS)-instrument wat in 'n ander ESO-teleskoop geïnstalleer is, het gelei tot die ontdekking van eksoplanete, insluitende Gliese 581 c, een van die kleinste bekende planete buite die Sonnestelsel.[8]

  1. "About ESO" (in Engels). 2 April 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Julie 2016. Besoek op 2 Januarie 2015.
  2. "ALMA website". Besoek op 21 September 2011.
  3. "Welcome to ALMA!" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2016. Besoek op 25 Mei 2011.
  4. "ESO Archive" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2020. Besoek op 28 April 2011.
  5. "A gamma-ray burst at a redshift of 8.2". Nature. 461: 1254–1257. arXiv:0906.1577. Bibcode:2009Natur.461.1254T. doi:10.1038/nature08459. Besoek op 21 September 2011.
  6. Gillessen, S.; Eisenhauer, F.; Trippe, S.; Alexander, T.; et al. (1970). "Monitoring stellar orbits around the Massive Black Hole in the Galactic Center". The Astrophysical Journal. 692 (2): 1075. arXiv:0810.4674. Bibcode:2009ApJ...692.1075G. doi:10.1088/0004-637X/692/2/1075.
  7. Chauvin, G.; Lagrange, A.-M.; Dumas, C.; Zuckerman, B.; et al. (2004). "A giant planet candidate near a young brown dwarf. Direct VLT/NACO observations using IR wavefront sensing". Astronomy and Astrophysics. 425 (2): L29. arXiv:astro-ph/0409323. Bibcode:2004A&A...425L..29C. doi:10.1051/0004-6361:200400056.
  8. "The HARPS Home page" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2019. Besoek op 21 September 2011.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search